geskiedenis-van-die-afrikaanse-literatuur-1

Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur – Band 1

[Op 14 Augustus was dit Taaldag en gedagtig daaraan herbesoek ons sekere periodes uit die Afrikaanse taalgeskiedenis. ~ Red.]

Die periode van die eerste Afrikaanse beweging (1875-1900)*

Algemeen-historiese oriëntering

I. Ontwaking van die Afrikanernasionalisme

Nadat Brittanje in 1806 die tweede keer die bewind aan die Kaap oorgeneem het, voer die nuwe regeerders geleidelik ‘n beleid van verengelsing in die staatsdiens, die skool en die Kerk deur wat uiteindelik ‘n belangrike prikkel vir die nasionale selfbewuswording onder die Afrikaners sou word. Onder invloed van die filantropiese idees ontwikkel die Britse regering terselfdertyd ‘n beleid van gelykstelling tussen blank en gekleurd wat materiële verliese en onvoldoende beskerming aan die grensbewoners tot gevolg het en die direkte aanleiding tot die Groot Trek sou wees. Hierdie massaverhuising lei in die vyftigerjare tot die totstandkoming van ‘n onafhanklike republikeinse noorde, terwyl die suide onder Britse koloniale bestuur gebly het.

In die sestigerjare van die negentiende eeu beleef die Afrikaners ‘n krisis in die ontwikkeling van hul eie nasionaliteit. Die kolonialers is deur die verengelsingsbeleid van die opeenvolgende Britse goewerneurs blootgestel aan die moontlikheid van denasionalisering en ‘n verlies van hul identiteit. Hulle het nog in die sfeer van ‘n onbewuste samehorigheidsgevoel geleef en daar was geen blyke van ‘n politieke bewussyn of ‘n besef van enige lotsverbondenheid nie. By die republikeine was daar wel ‘n gevoel vir selfstandigheid en ‘n onafhanklikheidstrewe, maar die politieke twiste, die burgeroorloë en die dreigende anargie – in die besonder wat Transvaal betref – het hulle ontwikkeling tot ‘n nasie vertraag.

Teen die einde van die dekade kom daar ‘n verandering in hierdie toestand deur Brittanje se anneksasie van Basoetoland (1868) op ‘n tydstip toe die Oranje-Vrystaat met ‘n geslaagde militêre offensief teen die oortreders van sy grondgebied besig was. Dit is egter veral die anneksasie van die diamantvelde (1871) wat ‘n hewige reaksie uitlok. Die optrede van Brittanje lei nie alleen tot ‘n sterk nasionale gevoel onder die Vrystaters nie, maar ook tot meelewing, simpatie en verontwaardiging onder die kolonialers en ‘n gevoel van solidariteit met die noordelike volksgenote. Vir die eerste keer word die hele Suid-Afrika, ongeag staatkundige grense, as ‘vaderland’ beskou en vind daar ‘n geestelike vereniging van die verskillende dele plaas. Terselfdertyd maak die onreg van die Britse regering teenoor die Vrystaat die kolonialers bewus van die onreg aan hulself en van die feit dat hulle ‘n verdrukte volk is wat nie die politieke rol vervul wat hulle kragtens hul getalle toekom nie. Hulle word tot nadenke gestem oor hulle posisie, herkoms en identiteit en oor die vraag of hulle as groep enige bestemming in hierdie land het. Só ontstaan die bewuswording van hul taalregte – al was dit in die begin tot ‘n klein intellektuele groepie in die Paarl beperk – en ‘n belangstelling in die eie historiese verlede. ‘n Gebeurtenis soos die Groot Trek is byvoorbeeld as ‘n nasionale saga met ‘n duidelike epiese dimensie gesien.

Terwyl dit vroeër Brittanje se koloniale beleid was om nie sy grense in Suid-Afrika uit te brei nie, het die ontdekking van diamante, die groter ekonomiese waarde van die binneland en die herontwaking van die imperialistiese idee daartoe gelei dat Brittanje sy mag in Afrika wou vergroot. Hierdie imperialistiese gedagte, in die besonder lord Carnarvon – Britse minister van kolonies – se federasieplanne vir Suider-Afrika, en die potensiële rykdomme van Transvaal was die beweegrede agter die anneksasie van die Zuid-Afrikaansche Republiek in 1877. Transvaal wou sy onafhanklikheid tot elke prys behou en ekonomies en polities onafhanklik bly van Brittanje, soos o.m. blyk uit T.F. Burgers se pogings om ‘n spoorverbinding met Lourenço Marques daar te stel. Twee deputasies onder leiding van Paul Kruger is sonder enige sukses na Londen gestuur om met die Britse owerheid te onderhandel, en daarna is ‘n kampanje van ‘lydelike verset’ van stapel gestuur. Die verset teen die anneksasie loop uiteindelik uit op die Eerste Vryheidsoorlog van 1880-1881 wat kulmineer in die Transvaalse oorwinning by die Slag van Amajuba op 27 Februarie 1881.

Soos in die geval van die besetting van die diamantvelde het die anneksasie van die Zuid-Afrikaansche Republiek ook die inwoners van die ander gebiede diep gegrief en ‘n meelewing met die noordelike ‘broeders’ tot gevolg gehad. Die verset teen die anneksasie lei in Transvaal tot ‘n sterk gevoel van samehorigheid en ‘n bewuswording van eie identiteit en nasieskap. Daarby het die Eerste Vryheidsoorlog die Republiek internasionaal bekend gemaak deurdat Wes-Europa begin kennis neem het van die stryd teen die Britse ‘imperialisme’ en die optrede van Transvaal as ‘n koloniale bevrydingsoorlog gesien het.

II. Omwenteling in die maatskaplike en ekonomiese toestande

In die negentiende eeu was die koloniale suide geestelik en kultureel beter daaraan toe as die republikeinse noorde. Deur die kontak met die see is Kaapstad, en in ‘n mindere mate Durban, deur vreemdelinge besoek en is die twee kolonies geestelik gevoed deur die kultureel kragtige Britse moederland. Daarteenoor was daar weinig kontak met die Nederlandse stamland, met die gevolg dat die Hollandse koloniste in ‘n groot mate van geestelike isolasie geleef het. Teen omstreeks 1870 was sowat sewentig persent van die plattelandse Afrikaners Engels nog nie magtig nie. Die Engelse kulturele bedrywighede het dus aan hulle verbygegaan. Tog was daar in die suide na verhouding meer ontwikkelde Afrikaners wat plaaslik en in Europa ‘n behoorlike opleiding gehad het en wat later as onderwysers, predikante en staatsamptenare in die republieke belangrike werk kon doen. Deur die verkleefdheid aan die Kerk het die plattelandse Afrikaners ook nie heeltemal verwilder nie, maar ‘n konserwatief-behoudende lewensvorm gehandhaaf.

Die geestelike en kulturele stimulus wat die kolonies in ‘n mate geken het, was feitlik heeltemal afwesig in die Vrystaat en Transvaal. Die gemiddelde Afrikaner was, naas die Bybel, die Psalm- en Gesangbundel en die Katkisasieboek, vir sy gebrekkige skoolopleiding deur wisselende onderwysers aangewys op die ABC-boek, die AB-jab en die Trap der jeugd. Deur die yl bevolking het die Afrikaners in die binneland ‘n selfstandige bestaan gevoer. Die dinge wat op die plaas en in die huis nodig was, is deur die boer en sy seuns self vervaardig of verwerk, net soos die moeder en haar dogters die noodsaaklikste huishoudelike verbruiksmiddele self gemaak het. Alleen die benodigdhede waarin hul nie self kon voorsien nie, is jaarliks of tweejaarliks met die ossewa van een van die groter sentra vervoer of van die rondtrekkende smous op een van sy periodieke besoeke gekoop. Die Afrikaanse boer het dus in sy eie behoeftes voorsien en op dié wyse is die grondslag vir ‘n sterk gesinseenheid en ‘n gesonde volkslewe, volksopvoeding en ekonomie gelê.

In die sewentigerjare kom daar ‘n groot verandering in hierdie agrariese bestaan van die Afrikaner. Teen omstreeks 1870 was negentig persent van die bevolking by die akkerbou (wyn, graan en suiker) en veeteelt (skaap en bees) betrokke. Die ontdekking van diamante in 1866 en goud in 1886 versteur egter hierdie rustige leefwyse en laat die ekonomiese swaartepunt van Suid-Afrika na die noorde verskuif. Bantoe-trekarbeiders stroom na die stede Kimberley en Johannesburg om in die myne te werk. Daarby verhuis heelparty blankes in die republieke en uit die kolonies na die ekonomies aantreklike diamant- en goudvelde waar hulle in aanraking kom met nuwe immigrante – meestal Britse onderdane – wat hulle fortuin kom soek en wat, veral in Transvaal, ‘n ‘uitlander’-vraagstuk skep. Suid-Afrika ontwikkel dus van landbouland tot mynbouland, ‘n ontwikkeling wat nie alleen ekonomiese voorspoed en geleidelike industrialisasie meebring nie, maar wat aan Johannesburg en Kimberley ‘n kosmopolitiese karakter gee en ‘n uitwerking op die hele demografiese opset van die land het.

Die nouer aanraking tussen die Afrikaners wat as grensboere en as Voortrekkerpioniere geïsoleerd in die binneland van Afrika geleef het en die ruimer denkende Britte lei tot ‘n botsing wat deur verskille in kultuur, agtergrond en lewensbeskouing bepaal is. By die meeste Engelstaliges, sowel in die republieke as in die kolonies, was daar die gevoel dat die hele Suid-Afrika onder die ‘beskerming’ van die Britse Ryk moes kom, dat Engels op die lange duur die enigste amptelike taal sou wees en dat die Afrikaners in die Britse nasionaliteit moes opgaan. Die liberale Brit wou wyer kyk en was ‘n voorstander van ‘broad-mindedness’ teenoor die ‘engheid’ van die geestelik gïsoleerde en plattelandse Afrikaner-‘backvelder’.

Hierdie basiese verskil in lewenshouding word weerspieël in die Suid-Afrikaanse koerante van die negentiende eeu. Die belangrikste Kaapse Engelse koerante, The Cape Argus (sedert 1857) en The Cape Times (sedert 1876), het ‘n aggressiewe gesindheid teenoor die Afrikaners en die Afrikaanse Beweging geopenbaar, terwyl die Johannesburgse blad The Star (sedert 1889) feitlik die mondstuk van die ‘uitlanders’ genoem kon word. Daarteenoor was die Kaapse Hollandse koerante De Volksvriend, De Zuid-Afrikaan en Ons Land (sedert 1892) en die Afrikaanse blad Die Afrikaanse Patriot die Afrikanersaak goedgesind, net soos Het Volksblad, wat van 1887 tot 1897 as De Volksbode herleef. Die Patriot steun die Transvaalse saak tydens die onafhanklikheidstryd en is in die tagtigerjare welwillend teenoor die presidentskap van Paul Kruger. J.F.W. van Oordt, redakteur van De Zuid-Afrikaan van 1883 tot 1894, bevorder die belange van Hollands, terwyl F.S. Malan, wat aan die hoof van Ons Land staan, ‘n anti-Engelse beleid in sy blad voorstaan. Buite die Kaapkolonie staan die Bloemfonteinse De Express (1875-1900), ná ‘n aanvanklike vyandige fase, ontvanklik teenoor Afrikaans, en later verskyn daar ook ‘n gereelde rubriek met Afrikaanse bydraes in dié blad. In Transvaal is daar, naas De Volksstem onder redaksie van Jan F. Celliers sr., die tweetalige koerant Land en Volk (1890-1901 en 1902-1908) onder redaksie van Eugène N. Marais en J. de V. Roos, wat die opposisieparty van genl. Joubert ondersteun. In Natal dien De Natal Afrikaner (1886-1904; opgevolg deur De Afrikaner, 1904-1932) as podium vir Afrikaner-aangeleenthede.

III. Selfbestuur en die totstandkoming en funksie van die Afrikanerbond

In die noorde het die Boere reeds lank voor die bewoners van die Kaapkolonie en Natal selfbestuur en onafhanklikheid geniet. Met die konvensies van 1852 en 1854, waardeur Brittanje die onafhanklikheid van die Vrystaat en Transvaal erken, kom die twee republieke tot stand, wat geregeer is deur ‘n verkose staatspresident, bygestaan deur ‘n uitvoerende raad en ‘n volksraad. Die Vrystaatse presidente J.P. Hoffman, J.N. Boshoff en J.H. Brand het deur die instelling van ‘n hooggeregshof en landdroste, die vaslegging van republikeinse grondwette en ‘n kommandostelsel die grondslag vir ‘n doeltreffende staatsbestuur en -verdediging gelê waarop F.W. Reitz en M.T. Steyn kon voortbou. In Transvaal het M.W. Pretorius onder moeilike omstandighede die nodige opbouwerk gedoen, en dit is voortgesit deur die idealistiese T.F. Burgers, tydens wie se bewind Transvaal deur Brittanje geannekseer is. Met die herstel van die onafhanklikheid het Paul Kruger in 1883 president geword en dit gebly tot 1902.

Kultureel en opvoedkundig was die Kaapkolonie egter nog steeds die toonaangewendste gebied in Suid-Afrika, al was dit onderontwikkel op konstitusionele, administratiewe en politieke terrein. Die vertraagde vordering tot selfbestuur was onder meer die gevolg van die vrees van die Engelstalige minderheid vir die groter getalsterkte van die Afrikaners. Tog word selfbestuur deur middel van ‘n verantwoordelike regering, wat op die Britse parlementêre stelsel berus het, in 1872 ingestel, terwyl Natal in 1893 met selfregering volg.

Omdat Engels die uitsluitlike amptelike taal was, het die Afrikaners nie juis ‘n besondere belangstelling vir hulle landsregering en die politiek geopenbaar nie.

Reeds in 1879 het S.J. du Toit, die redakteur van Die Patriot, egter die behoefte gevoel aan ‘n organisasie wat die kragte van die Afrikaner, ook op politieke gebied, kon verenig en effektief kon aanwend. In Die Patriot van 20 Julie 1879 bepleit hy die stigting van ‘n Afrikanerbond ‘waarin al wat Afrikaner is sig kan thuis voel en samewerk tot heil van ‘n Verenigde Suid Afrika, … waarin gen nasionaliteit ons van mekaar skei nie, maar waarin almal wat Afrika erken as hulle Vaderland same woon en werk as broeders van één huis, al is hulle van engelse, hollandse, franse of duitse afkoms, met uitsluiting alleen van dié wat van Engeland praat as hulle ‘home’ of van Holland en Duitsland as hulle ‘Vaderland’ en wat hier net hulle beurs wil vul met Afrikaanse welvaart om dit dan in Europa te gaan verteer’. Dit was die doel van Du Toit om al die verenigings wat die belange van die Afrikaner behartig het, in een organisasie saam te vat, in die besonder die Genootskap van Regte Afrikaners, die Zuid-Afrikaansche Boeren Beschermings Vereeniging, die Boerenvereenigingen van die Oostelike Provinsie en die Transvaalse Volkskomitee. Gestimuleer deur die reaksie wat die Eerste Vryheidsoorlog en veral die Slag van Amajuba op die Afrikaners van die Kaapkolonie gehad het, ontwikkel die Bond besonder vinnig onder die leiding van Du Toit en word daar oral in die Kolonie, die Vrystaat en Transvaal takke opgerig. In 1882, voordat hy as Superintendentgeneraal van Onderwys na Pretoria vertrek, stel Du Toit ‘n ‘Program van beginselen’ vir die Bond op. Dat hy nie net aan Kaapland gedink het nie, blyk uit artikel VI, waarin hy beweer ‘dat het einddoel onzer nationale ontwikkeling zijn moet, een verenigd Zuid Afrika, onder eigen vlag’.

In 1882 tree J.H. Hofmeyr (Onze Jan), leier van die Boeren Beschermings Vereeniging en belangrike figuur in die Kaaps-Hollandse perswese, toe tot die Afrikanerbond. Deur die georganiseerde optrede van die Bondsmanne word Hollands naas Engels in 1882 in die parlement en in 1884 in die geregshowe toegelaat, wat ‘n gedeeltelike herroeping van Somerset se taalwette van 1822-1823 beteken het. Ná 1884 verkry die Bond deur sy sterk verteenwoordiging in die laerhuis ‘n politieke magsposisie. In teenstelling tot Du Toit was Hofmeyr vriendeliker gesind teenoor die Engelssprekendes, alhoewel die Bond nog steeds die saak van die Boere prim^er gestel het. Dit was egter Hofmeyr se doel om ‘n breuk tussen Engels- en Afrikaanssprekendes te voorkom. Daarvoor het hy ‘n ‘Suid-Afrikanisme’, wat sowel Afrikaner as Brit moes insluit, voorgestaan, ‘n gematigde en versigtige beleid aan die dag gelê en op dié wyse die vertroue van heelwat Engelstaliges gewen. Dit lei egter daartoe dat die Bond deur veral die republikeinse Afrikaners gewantrou is.

Dit is in hierdie jare dat Cecil John Rhodes op die politieke toneel verskyn. Om sy doel en ideaal, nl. die verbreiding van die Britse Ryk oor die hele Afrika en die federasie van die Suid-Afrikaanse geweste, te verwesenlik, het Rhodes ook die steun van die Afrikanerbond probeer verkry. Die gevolg was ‘n hegte vriendskapsband met Hofmeyr en die steun van die Bond in die laerhuis. Hierdie steun stel Rhodes in staat om in 1890 die premierskap van die Kaapkolonie oor te neem en ‘n politieke en (deur sy aandeel aan die diamant- en goudbedryf) finansiële magsposisie te verkry wat tot in daardie stadium ongekend in Suid-Afrika was. Deur die anneksasie van Betsjoeanaland en die verydeling van Kruger se planne om ‘n seehawe vir Transvaal te bekom, ontstaan daar egter verwydering tussen Kaapland en Transvaal en van Afrikanerkant afkeer van die Rhodes-Hofmeyr-samewerking. Hofmeyr, wat as die hoop van die Afrikanerdom beskou is, het al hoe meer deur bittere kritiek en verwyte van verraad in die gedrang gekom omdat hy hom skynbaar oogluikend laat gebruik het om Rhodes se imperialistiese aspirasies te bevorder. Eers met die Jameson-inval van 1895 en Rhodes se aandeel aan die komplot was Hofmeyr bereid om die steun van die Afrikanerbond aan die regering te onttrek. Dit lei tot Rhodes se bedanking as premier.

Die Afrikanerbond was die eerste liggaam waarin die krag van die Afrikanervolk landswyd gemobiliseer is. Alhoewel dit voor 1899 nooit in ‘n toonaangewende posisie in die laerhuis was nie, het dit agtereenvolgens die regerings van Scanlen, Upington, Sprigg, Rhodes en Schreiner gesteun en het sy onttrekking gewoonlik die val van ‘n regering beteken. In die negentiende eeu was dit die enigste party van betekenis in die Kaapse parlement.

IV. Opvoedkundige ontwikkelings

Met die Britse bewindsoorname van die Kaapkolonie in 1806 het die onderwys in die algemeen verbeter, maar van die kant van die Hollandse koloniste was daar sterk teenstand teen die stelselmatige verengelsing en die uitsluiting van Hollands uit die onderrigprogram. Die aanstelling van James Rose-Innes as Superintendentgeneraal van Onderwys in Kaapland bring, wat dít betref, geen noemenswaardige verandering nie, maar hy slaag daarin om staatsondersteuning vir blanke skole in die groter sentra te kry en om die onderwysstelsel en administrasie aansienlik te verbeter. Die belangrikste skole was die Suid-Afrikaanse Kollege, die Diocesankollege, die Good Hope Seminary (Kaapstad), die Huguenot Seminary (Wellington), Bloemhof (Stellenbosch), St. Andrews in Grahamstad, die Graaff-Reinet-kollege en die Grey-kollege in Bloemfontein. In 1859 word die Teologiese Seminarium op Stellenbosch gestig om leraars vir die Ned. Geref. Kerk op te lei en die groot stroom liberale en Engels-georiënteerde predikante te stuit. Die verengelsing word ook teengewerk deur G.W.A. van der Lingen, wat in 1860 die Paarlse Gimnasium tot stand bring. Die Stellenbosse Gimnasium word in 1866 opgerig; vanaf 1887 heet dit die Victoria-kollege, die inrigting waaruit die Universiteit van Stellenbosch later ontwikkel. In 1873 word oorgegaan tot die stigting van die Universiteit van de Kaap de Goede Hoop, ‘n eksaminerende en beherende liggaam wat grade uitgereik, maar die doseerwerk aan die bestaande kolleges oorgelaat het.

Met die uitsondering van die Teologiese Seminarium het al hierdie inrigtings Hollands verontagsaam. Die gedwonge gebruik van Engels as medium het van die skool ‘n politieke werktuig gemaak, en die groot waarde van Engels is só by Afrikaners ingeskerp dat baie hul moedertaal en volk geminag het.

In 1892 word John Muir die nuwe Superintendent-generaal van Onderwys in die Kaapkolonie, en op sy inisiatief word die Onderwysdepartement verbeter en verder uitgebrei. In 1882 is S.J. du Toit in dieselfde hoedanigheid in Transvaal aangestel, en onder sy leiding word die onderwys in die Republiek aansienlik ontwikkel. In 1891 word hy opgevolg deur N. Mansvelt, wat die Protestants-Christelike opvoeding waarmee Du Toit begin het, verder deurvoer.

Die Suid-Afrikaanse Biblioteek in Kaapstad, wat in 1822 deur lord Charles Somerset begin is, word in die tweede helfte van die negentiende eeu, o.m. deur groot skenkings soos dié van sir George Grey, die beste in Suid-Afrika. Reeds teen die einde van die negentiende eeu het die Suid-Afrikaanse Museum, wat in 1855 deur E.L. Layard hervestig is, ‘n indrukwekkende versameling, veral van fossiele en klipwerktuie. In 1876 word die Kaapse Argief in Kaapstad opgerig, waar mettertyd ‘n goeie versameling van dokumente oor die Hollandse en Bataafse periodes en die Kaapkolonie in die negentiende eeu tot stand kom.

*Hierdie is ‘n uittreksel uit Kannemeyer se werk “Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur 1” (1984).

Leave a Reply