Plaasaanvalle en plaasmoorde word vandag weer onder die vegrootglas geplaas wanneer die nuutgestigte Solidariteit Beweging ‘n nuwe veldtog hierteen van stapel stuur.

Die fokus hier is baie belangrik – nie net word hard en dringend gewerk aan die beveiliging van diegene wat nog aangeval kan word nie, maar ook om die trauma van oorlewendes en naasbestaandes aan te spreek. ‘n Goeie weermag doen immers alles in sy vermoë vir die versorging van sy gewonde soldate, en vir die naasbestaandes van dié wat geval het.

Die aankondiging sal onder meer ’n tienpunt-aksieplan vir die veldtog insluit. Die eerste been van die veldtog skop reeds vandag af en behels ʼn projek van Kraal-Uitgewers waarin die publiek genooi sal word om plaasaanvalle waardeur hulle geraak is, te laat lys. Die aanvalle sal dan in ʼn ‘boekmonument’ opgeneem word saam met die reeds meer as 2 600 ander aanvalle wat sedert 1990 plaasgevind het.

Die Afrikaners kan oor haas enige saak onderling baie skerp verskil, maar oor een saak is daar byna eendragtige saamstaan – plaasaanvalle.

Peter Mokaba se sing van die lied, Kill the Boer, Kill the Farmer, en Julius Malema se aandrang op die sing van die “skiet die Boer”-lied, het bykans eendragtige steun. Die enkelinge in die Afrikanergemeenskap wat anders hieroor voel, word vreemd aangekyk. Die redes is maklik verstaanbaar. Volgens Interpol is die moordkoers onder Suid-Afrika se boere en hul gesinslede omtrent tien keer so hoog soos die gemiddeld van ongeveer 30 per 100 000 per jaar onder Suid-Afrikaners in die algemeen.

Maroela Media het reeds die kwessie bespreek of dié aanvalle en die regering van Malema se appèlaansoek teen die uitspraak van die gelykheidshof nie op volksmoord neerkom nie. Sielkundiges en sosioloë het ook al besin oor hoekom plaasaanvalle so besonder in die hart tref, en sulke afmetings van trauma afgee. Onder die redes wat aangevoer word is:

–       Isolasie en blootgesteldheid van plaasgesinne, ten spyte van veiligheidsmaatsreëls

–       Die ontsettende wreedheid wat dikwels daarmee gepaard gaan, soos die bejaarde boer van Vryheid wie se voetsole afgeskil is om te sê waar sy kluis versteek is. Hy het nie ‘n kluis nie.

–       Voortdurende uitsprake vanuit die geledere van hulle wat ‘n grondwetlike plig het om ook die boere te beskerm, regeringslui wat indien nie vyandige uitsprake is nie, dikwels minstens onsimpatiek is.

–       Al is verreweg die meeste Afrikaners nou stedelinge, het baie nog naby familie op plase, en bestaan daar by baie steeds ‘n tipe romantiek en koestering van hierdie romantiek.

Die ironie is dat boere nie net op hul plase aangeval is nie. Verskeie boere wat vir hul veiligheid in die dorp gaan woon het en van daar geboer het, is in hul dorpshuise oorval. Op Boshof het die booswig deur die plafon gekom om ‘n boervrou wat gemeen het sy is veilig in haar kamer toegesluit en verskans, te vermoor. Daar is dus ook ‘n effense verskil in die statistieke van boer en hul gesinslede wat elders vermoor word, soos die 2-jarige Anri van Rooyen wat ‘n pleistertjie vir die eina gevra het na sy tussen haar ouers deur dieselfde koeël in die maag getref is wat haar pa se nek deurboor en verlam het. Hulle was onderweg van die dorp terug plaas toe. Anri is ‘n paar dae later dood.

Pas is die oud-krieketspelers Louis Vorster, wat ook in Namibië geboer het, by ‘n Suid-Afrikaanse vulstasie vermoor, of nog ‘n Namibië boer, Piet van Helsdingen word op sy plaas vermoor.

Anri is nie die enigste boerepeuter wat omgekom het nie. Die land is ook geskok deur die moord op klein Willemientjie Potgieter, wat soos haar ouers op die teregstellingsmetode in die agterkop geskiet is. Ons land betaal ‘n bepaalde prys hiervoor. Pas, twee jaar later, het iemand ‘n ou berig oor Willemientjie op die internet opgespoor en die volgende kommentaar daarby geskryf: “Hartverscheurend, krijg er tranen van in de ogen. Heb Zuid Afrika mogen bezoeken en begrijp heel goed waarom mijn voorvaderen deze plek hebben uitgekozen. Droevig dat het land nu zo aan het afglijden is naar totale anarchie.”

Kraal Uitgewers se oproepe op deelname is dus nie net voorkomend gerig nie, maar terapeuties en helend.

Leave a Reply